26 Julie – 2 Aug: Dwarsdeur 360 grade

M: As ek ons reis om die wêreld met ‘n lang uitgerekte maaltyd sou vergelyk, is Europa definitief die poeding en België die kersie, met ‘n stingeltjie, heel bo op. Vanaf Parys het ons die pad gevat Ghent toe. Daar aangekom besef ons dit is tyd vir die jaarlikse “Ghente Feesten”, klink my dis een van die grootste musiekfeeste in Europa, en word vergelyk met die meer bekende Oktoberfest van Duitsland. Ons besef toe dat ons ‘n effense minslaap-risiko neem deur ons tentjie op te slaan langs die oop-area feesveld in die kampeerterrein, maar was nie lus om verder te soek nie. Dit was nogals reënerig in Ghent en ek dink dit het die kampeerders se volumes mooi in toom gehou. Die fees self was heerlik, om elke hoek en draai is ‘n verhoog met kunstenaars op, jy loop rond en besluit vir wie jy wil luister. Natuurlik het ons vasgehaak by ‘n Belgiese rooikop met ‘n Adéle-stem ( Willie se gunsteling “Suid Afrikaanse” sangeres). Daar sit ons toe in die reën op ‘n trap, eet heerlike “frietes” en luister na die allermooiste musiek.

Ghent se musiekfees was 'n lekker affêre.  België is wyd bekend vir sy lekker frietes/french fries/tjips en ons was inderdaad baie beïndruk.

Ghent se musiekfees was ‘n lekker affêre. België is wyd bekend vir sy lekker frietes/french fries/tjips en ons was inderdaad baie beïndruk.


Ai maar nou toer ons lekker!

Ai maar nou toer ons lekker!


Vanaf Ghent gaan ons na Brugge, ‘n fraai kanaal dorpie met pragtige straatjies. Die reën het egter sedert ons Ghent-tydjie onophoudelik geval, en ons klein tentjie is nie ideaal vir kosmaak in die reën nie. Angesien ons weens goedkoop verblyf mooi onder skedule is met ons begroting, besluit ons toe om Brugge “ordentlik” te doen, en bly in ‘n hotel. Ons tent is egter steeds sopnat (in die reën afgeslaan die oggend) so ons slaan sommer die tent in die hotelkamer op om droog te word. Die aand gaan eet ons die allerwonderlikste kaas fondue, bedien deur Siegrid, die beste kelnerin ooit. Sy is ‘n Belg, en kon ons Afrikaans baie goed verstaan, en wou heelaand met ons praat en woorde uitruil. Sy het ons verbaas met ‘n mooi reënwoord: hemelwater. Wel, toe ons laat die aand terug hotel toe loop, stroom die hemelwater op ons neer. Die hotel se voorportaal dien ook as ‘n restaurant, en toe ons papsoppersnat ons skoene in die voorportaal uittrek om nie die hele mat nat te trap nie, kry ons ‘n hele paar skewe kyke van die deftige hotelbewoners. Terug in ons kamer wag nog ‘n verrassing: ons het die kamervenster oopgelos en ons tent wat vroeër die oggend sopnat was, is nou weer sopnat!
Brugge het 'n baie spesiale bekoring vir ons.

Brugge het ‘n baie spesiale bekoring vir ons.


Die kanale van Brugge...

Die kanale van Brugge…


Brugge het baie betoweringe, en ons het hier rêrig besonder lekker geëet. Die pot mossels kry ‘n goedkeurende knik, en dan kan ek nie ophou praat oor die wafels nie. Ek is nie ‘n wafelkenner nie en eet dit nie gereeld nie, maar die reuk van die Belgiese chocolatesous het my neus gelei en ek moes dit proe. Hierdie wafel was onbeskryflik lekker. Die deeg, die sous, die reuk… Dan is daar natuurlik ook om elke hoek en draai ‘n Chocolaterie, waar hordes pragtige sjokoladetjies jou uitlok om almal te proe en dan te koop. Dit werk.
Mossels, wafels en chocolates. My mond water...

Mossels, wafels en chocolates. My mond water…


Hierdie kaasfondue was 'n ware wenner.  Ons gaan hom definitief tuis probeer!

Hierdie kaasfondue was ‘n ware wenner. Ons gaan hom definitief tuis probeer!


Goed. Na die poeding is daar mos soms nog ‘n sweetie vir die pad huis toe, so toe ons klaar gesmul het aan België, vat ons ‘n ferry oor die waters terug na die “White cliffs of Dover” vir ‘n laaste draai in Engeland. Die koningin se eiland het nie vreeslik baie wonders van die wêreld nie, maar hulle bemarking is wraggies goed. Wie het nog nooit van Stonehenge gehoor nie?! Ons vat die pad na hierdie misterieuse area met groot klippe al in die rondte. Willie het hardop gewonder of hulle die stene ingestel het volgens die seisoene… Dit is oulik, maar toe ons op die brosjure lees “…and explore the prehistoric site around the ruins” en ons kyk rond en sien net skape en groen weivelde, kyk ek en Willie net vir mekaar en glimlag misterieus.
Op die ferry terug na Engeland sien ons die pragtige "White cliffs of Dover"

Op die ferry terug na Engeland sien ons die pragtige “White cliffs of Dover”

Ons glimlag misterieus vir mekaar.

Ons glimlag misterieus vir mekaar.

Hoe langer na Stonehenge staar, hoe meer sien jy raak.

Hoe langer na Stonehenge staar, hoe meer sien jy raak.

Na Stonehenge vat ons die pad vir oulaas terug na lekker London. Hier wys Leslie vir ons die meer gritty dele van die stad, en die aand eet ons in Brixton. Alhoewel die sirenes lekker wild loei in hierdie area, is dit gelukkig nie heeltemal Brixton Moord en Roof soos ons hom ken nie, maar steeds interessant en ‘n heerlike aand met Pimms en Thai kos. Laaste op ons agenda is High Tea in London. Dit is omtrent ‘n ervaring met tee ontwerp deur ‘n tee sommelier, en koekies wat amper te mooi is om te eet. Moenie vergeet van die “scones with strawberry jam and clotted cream” nie!

Hmmmmmm...

Hmmmmmm…


Nou is ons reg vir die pad terug. Saterdagoggend om 09:15 eindig ons reis om die wêreld, soos hy begin het, op Johannesburg lughawe, en ons sien sien uit daarna om ons familie en vriende en moontlik selfs ‘n paar ballonne daar te sien!